Van broederskap tot Psigopate: Jimny’s, politiek en Jacaranda hoop

Loading player...
In hierdie week se KLETS haal ons asem tussen die chaos deur. Dis Oktober – die maand van jacarandas wat soos pers konfetti oor Pretoria se strate val. ’n Tyd om mooi te sien, selfs al voel dit soms of die res van die land in ’n donker sitcom vasval.

Colene vertel van haar nuwe liefde – die Jimny – en hoe sy agterkom dat Jimny-bestuurders eintlik ’n geheime broederskap vorm. As jy ’n Jimny ry, is jy familie. As jy nie een het nie, wel… jammer vir jou.

Maar ons parkeer nie net in die lig nie. Ons gesels oor die noodsaaklikheid van ontkoppeling van tegnologie, die eindelose jaag na geluk wat mense uitput, en natuurlik die harde realiteite wat Suid-Afrika steeds jaag: korrupsie, ’n disfunksionele Gauteng gesondheidsorgstelsel wat die inwoners van Tembisa in die steek gelaat het, en ’n polisie wat te veel keer jou eerder laat sug as veilig laat voel.

Ons kyk ook na die rol van die ANC en DA in ’n politieke landskap wat al hoe meer soos ’n draaiboek vol clichés lees. Waar is die die burgers van Suid-Afrika se regte in hierdie stories? Waar is die menslike element in politiek, dié wat gemeenskappe regtig dien en nie net 'n magspel speel nie?

En toe besluit Colene en Matthys om self te toets wie van hulle die grootste psigopaat is. Want kom ons wees eerlik: dis mos die soort CV wat jou regtig ver in die regering kan vat.

Maar die episode eindig waar dit begin: met die erkenning dat ons moet aanhou kyk na die jacarandas, dat ons moet aanhou die mooi raaksien, selfs wanneer die lelike so oorweldigend voel. Dit is nie om die werklikheid te ontken nie, maar om jou menslikheid te behou. Want as ons net fokus op alles wat stukkend is, vergeet ons dat daar steeds dinge is wat die moeite werd is om vir te veg.

Suid-Afrika in Oktober 2025 is 'n land van kontraste: ongelooflike skoonheid en onvoorstelbare korrupsie, oomblikke van menslike goedheid en sistemiese verraad, jacaranda-blomme en gekaapte instellings.

Colene en Matthys nooi jou uit om saam met hulle te KLETS, om albei werklikhede te erken, en om te vra: hoe leef ons met integriteit in 'n land waar korrupsie so diep gewortel is? En belangriker: hoe behou ons hoop?
1 Oct Afrikaans Explicit South Africa Society & Culture · News Commentary

Other recent episodes

Trump blink, DSTV sink en Afrikaanse boeke skitter

In hierdie week se KLETS "beklets" ons alles van wêreldpolitiek, plaaslike “affairs”, kultuur, wyn, inkopies, en natuurlik ’n paar Suid-Afrikaanse oorwinnings. Trump het op 1 Desember 2025 die G20 oorgeneem in tipiese Trump-styl, met 'n gebalde vuis en selfversekerd, met sy belofte dat “The Best is Yet to Come”. Ons…
3 Dec 59 min

Die G20, Wynroem en DA Uber Eats Gate

In hierdie week se “KLETS” word wêreldpolitiek, plaaslike drama en ’n tikkie Uber Eats op die tafel gesit, "dis koue kos, skat!" Ons begin by Gauteng se G20-lockdown, die konferensie wat Suid-Afrika trots as ’n reuse sukses verklaar het. Want niks sê “internasionale sukses” so goed soos om jou grootste…
26 Nov 53 min

Wie is Ons Nou? ’n Gesprek oor Identiteit en Verantwoordelikheid

In hierdie kragtige en eerlike KLETS-episode grawe ons diep in die veelvlakkige vraagstuk van Afrikaanse identiteit en wat dit vandag beteken om ’n Afrikaner in Suid-Afrika te wees. Ons begin by die omstrede “Nie in ons naam” brief, wat ’n hele veldbrand aan gesprekke in en buite die Afrikaanse gemeenskap…
18 Nov 57 min

Trump maak “vrede” en Suid-Afrika maak Kommissies

Oktober. Dis daai maand waar die jaar begin terugpraat - waar verantwoordelikhede ophoop, sperdatums grom en die stresvlakke begin voel soos beurtkragvlakke: onvoorspelbaar, maar beslis daar. In hierdie week KLETS Matthys en Colene oor daardie ongesiene spanning wat in almal se lewens broei. Van die druk van werk en die…
15 Oct 54 min